WELKOM

kuns

Welkom by eentonig, 'n eksperimentele klank projek in Afrikaans deur drie Suid-Afrikaanse expats wat mekaar toevallig op 'n spesifieke geografiese punt raakgeloop het.

eentonig is die resultaat van drie uiters uiteenlopende musikale koppe wat mekaar tref in 'n bloedige en geweldadige samesmelting. Die album is eksperimenteel in die sin dat daar geen vooropgestelde idees was oor hoe die eindproduk moes klink nie, maar dat dit wel 'n sameflansing van elk van die kunstenaars se unieke benadering tot musiek en klankproduksie moes daarstel.

Die album is gratis beskikbaar onder 'n Creative Commons lisensie. eentonig is ten volle bewus van die toekoms van die verspreiding van musiek en die invloed wat dit gaan hê op die musiekindustrie. Verder is die doel van die projek nie om 'n kommersiële produk te skep nie maar om te fokus op die kreatiwiteit en vryheid wat gepaardgaan met die verwydering van die kommersiële oogmerk.

eentonig is ook sterk beïnvloed deur argitektoniese, stedelike, tegnologiese en geografiese verskynsels en die invloed hiervan op sosiale en psigologiese toestande. Daar is dus 'n sterk verwantskap tussen die klank konstruksies en die kontemporêre industriële landskap. Hierdie idees word gereflekteer in die koffietafelboek eentonig wat binnekort hier beskikbaar sal wees.

eentonig gaan uit die aard van die saak nie by almal aanklank vind nie. Maar as die wel by jou resoneer, deel dit met iemand.